Hulp:Wikispecies algemeen

From Wikispecies
Jump to navigation Jump to search
This page is a translated version of the page Help:General Wikispecies and the translation is 100% complete.


Alhoewel Wikispecies, nes Wikipedia, ook 'n projek van die Wikimedia-Stigting is, is daar groot verskille wanneer dit kom by gebruikersbydraes. Wikispecies het naamlik streng bepalings oor die formattering van inhoud. Hierdie reëls is nodig omdat Wikispecies vir 'n bepaalde doel daargestel is. Die stigter van die Wikimedia-Stigting, Jimbo Wales, het in 'n nota die verskil tussen Wikipedia en Wikispecies duidelik gemaak.

Die Wikimedia-Stigting huisves ook 'n projek met die naam Wikidata. Wikidata is 'n databasis wat 'n verskeidenheid inhoud omvat. Dit dien as 'n sentrale stoorplek vir data uit alle Wikimedia projekte, en laat gebruikers toe om die data te bestuur, wat lei tot 'n dramatiese vermeerdering van die omvang van inhoud wat met wiki-beginsels gebou kan word.

Stel jou voor dat jy die inhoud van 'n inligtingskassie op Wikipedia kan wysig met net een klik, dat dit dan vir jou wysigingsopsies gee spesifiek tot daardie inligtingskassie, en dat ander Wikipedias daarna onmiddelik en outomaties dieselfde inhoud kan gebruik (tensy dit natuurlik spesifiek tot jou lokaliteit is). Stel jou voor hoe dit kan veroorsaak dat inligting in 'n artikel outomaties in die agtergrond opgedateer word sonder dat jy enigeiets hoef te doen - hetsy die data die ontwikkeling van maatskappy-aandele of die aantal lyntjies kode in 'n oopbronprojek is. Stel jou voor dat jy 'n verskeidenheid wiki-databasisse oor verskillende onderwerpe kan deursoek, sonder dat jy enigiets oor wikis hoe te weet.

Alle inligting in Wikispecies word mettertyd in Wikidata gestoor.

Kyk na: Wat Wikispecies nie is nie.

Wikispecies se omvang

Wikispecies beskryf biologiese nomenklatuur en taksonomie. Die implikasie is dat bydraers tot Wikispecies kundig in hierdie onderwerpe sal wees. Onderwerpe wat nie verwant is aan nomenklatuur of taksonomie nie hoort nie op Wikispecies nie; artikel-lengte stukke teks hoort eerder op Wikipedia. Verspreidingsdata mag wel in die geselsbladsy van 'n artikel ingesluit word, of (uiteindelik) in Wikidata.

Taalkonvensies

Wikispecies probeer om so taal-neutraal as moontlik te wees. Teksgebruik is hoofsaaklik beperk tot die werklike data, en verder meesal net vir formatteringsdoeleindes. Die gebruik van Latyn vir nomenklatuur en taksonomie is 'n gevestigde wetenskaplike gebruik. Wikispecies volg dit ook na in die gebruik van die Linneaanse binominale nomenklatoriese stelsel, daarom word Latyn gebruik in die taksonomie en nomenklatuur afdelings.

Engels word deurgaans aangewend vir opmerk- en databeskrywingsdoeleindes; dit is die algemene gebruik in die Wikispecies-projek.

Omdat daar net een Wikidata taksonomie- en nomenklatuurdatabasis kan wees, sal parallelle weergawes van hierdie projek wat in ander tale geskep word eenvoudig verwyder word.

Inhoudskonvensies

Taksonnavigasie-afdeling

Elke taksonbladsy op Wikispecies moet 'n Taksonnavigasie-afdeling insluit. Hierdie afdeling behels die taksonomiese gedeelte van Wikispecies, en dit is geheel en al in Latyn met benamingskonvensies soos in die onderstaande tabel.

Taksa en hulle meervoude, in Latyn
Takson (enkelvoud) Taksa (meervoud)
Phylum Phyla
Classis Classes
Ordo Ordines
Familia Familiae
Divisio Divisiones
Cohors Cohortes
Sectio Sectiones
Tribus Tribus
Genus Genera
Species Species
Varietas Varietates
Forma Formae

Ten einde alles so gestandardiseerd as moontlik te hou, steun Wikispecies sterk op die gebruik van takson-sjablone.

Naamafdeling

Behalwe taksonnavigasie, moet elke bladsy ook 'n Naamafdeling insluit. Dit bevat die Latynse naam, die outeur daarvan en die jaar waarin die outeur die spesies beskryf en benaam het. Vir plantname moet die bron van die protoloog in standaard afkortingsvorm ook aangedui word. Outeursname word intern gekoppel aan outeursbladsye.

Wanneer hierdie afdeling 'n spesies of ondergeskikte takson behandel, behoort dit ook inligting oor die holotipe en die tipe-lokaliteit in te sluit, indien beskikbaar. Die holotipe is die eerste eksemplaar waarop 'n outeur 'n beskrywing baseer het. Holotipes word in museums bewaar. Die tipe-lokaliteit is die plek waar die holotipe gevind is.

Sinonieme van die beskryfde takson word in 'n onderafdeling geplaas.

Verwysingsafdeling

Die taksonnavigasie- en naamafdelings is nutteloos sonder verwysings. Verwysings word egter nie direk in hierdie afdelings ingevoeg word nie; stawingsdokumentasie vir die hele res van die bladsy kom eerder in die verwysingsafdeling. Dit kan boeke, tydskrifte, of internetskakels na artikels waarin jy die inligting gevind het insluit. Wanneer toepaslik moet die oorspronklike bron eerste gebruik word (die oorspronklike bron is die een waarin die outeur die spesies eerste beskryf het). Vir meertalige internetskakels, kies die Engelse weergawe waar moontlik.

Afdeling vir volksname

Hierdie afdeling voorsien skakels na volksname in ander tale, gekoppel aan Wikipedia-projekte waar toepaslik.

Bronne

'n Lys van goeie bronne, wat benut kan word as verwysing vir bydraes tot Wikispecies, is saamgestel.

Die volgende riglyne kan gebruik word om te bepaal of 'n internetverwysing geskik is vir gebruik. Dit behoort:

  • Latynse nomenklatuur te gebruik,
  • moet outeurs en jare insluit,
  • asook ander verwysings, of, as dit die oorspronklike verwysing is, 'n beskrywing van die takson.

Formatteringsriglyne

Vir verdere riglyne, benewens dit wat alreeds in die Wikispecies hulpafdeling gestipuleer is, volg ons die volgende standaarde na:

  • Vir Plantae en Fungi: 'The International Code of Botanical Nomenclature' ('Vienna code' van Julie 2005) [1]
  • Vir Animalia: 'The International Code of Zoological Nomenclature' (vierde weergawe) [2]
  • Vir Prokaryota (Bacteria en Archaea): 'The International Code of Nomenclature of Prokaryotes' (ICNP, 2008-hersiening, 2015 konsepmanuskrip) [3], voorheen die 'International Code of Nomenclature of Bacteria' (ICNB, 1990-hersiening) [4]

Hoe gemaak wanneer jy hulp nodig het?

  • Lees die formatteringsriglyne wat in hierdie hulpafdelings voorsien word
  • Vra algemene vrae in die Geselshoekie
  • Vra vir bystand van Wikispecies administrateurs
← Contents General Wikispecies/af Taxonavigation section →