Wikispecies:Outobiografie

From Wikispecies
Jump to navigation Jump to search
This page is a translated version of the page Wikispecies:Autobiography and the translation is 100% complete.

Indien jy 'n takson benaam het is daar waarskynlik 'n Wikispecies-bladsy oor jou, een oor die takson, en ander oor jou gepubliseerde artikels (indien nie sal hulle mettertyd daar wees). Daar is voorbeelde by Kategorie:Taksonoutoriteite en Kategorie:Verwysingsjablone. Jy mag bladsye oor jouself opdateer, of korrigeer, maar vermy asseblief selfverheerliking. Indien jy twyfel, vra op die Geselshoekie.

Vertroudmaking met Wikispecies

Ons hoop dat jy sal gebruik maak van Wikispecies, en dalk selfs vertoef en ons help om dit verder uit te bou. Om te begin kyk na die skakels onder Verken Wikispecies op ons hoofblad.

Beleid van die Wikimedia-stigting

Op 9 April 2009 het die Raad van Trustees van die Wikimedia-stigting 'n resolusie aanvaar insake Wikimedia se hantering van materiaal in die biografieë van lewendige persone (BLPs). Dit het probleme met sommige BLPs uitgewys wat oormatig selfbevorderlik is, gevandaliseer word, foute bevat of lasterlike aantygings insluit. Die Stigting het gemaan dat besondere aandag geskenk moet word aan neutraliteit en staafbaarheid waar lewendige persone ter sprake is; dat menswaardigheid en privaatheid in ag geneem word, veral in artikels van bloot vlietende of marginale belang; en dat iedereen wat beswaard is oor beskrywings van hulself op die projek se webwerwe met geduld, goedhartigheid en respek benader word.

Jy kan jou besorgdheid oor sulke gevalle lug by die Geselshoekie, op die Administrateurs se Kennisgewingbord, of op die geselsbladsy van die betrokke redakteur. Indien jy nie tevrede met die terugvoer van redakteurs en administrateurs ten opsigte van 'n bekommernis oor biografiese materiaal van 'n lewendige persoon is nie, kan jy die Wikimedia-stigting direk kontak.

Identifiseerders

Ons hou graag rekord van unieke identifiseerders wat jou onderskei van ander mense met dieselfde naam. Dit sluit in, (maar is nie beperk tot) VIAF, ISNI, ORCID, ResearcherID, Scopus, en Google Scholar. Jy mag hulle byvoeg op Wikidata, of, weereens, 'n nota laat op die Geselshoekie.

In besonder kan jy registreer vir 'n ORCID iD; verwys na ORCID in Wikipedia vir besonderhede.

Wikispecies redakteurs

Indien jy wysigings maak op Wikispecies, of op een van ons susterprojekte, soos Wikipedia of Wikidata, stel ons voor dat jy op elkeen van hulle jou ORCID iD invoeg op jou gebruikerbladsy, deur die instruksies te volg op ons leiding vir Wikimediërs.

Wikidata

Indien daar 'n bladsy oor jou op Wikispecies is, behoort daar ook 'n item oor jou te wees in ons sustersprojek Wikidata, wat masjienleesbare stellings insluit as gekoppelde, oop, data.

Foto

Ons sou graag 'n foto van jou wil vertoon. Jy mag slegs fotos waarvoor jy die kopiereg hou (gewoonlik omdat jy die fotograaf is) oplaai. Indien 'n familielid, kollega of vriend 'n geskikte foto geneem het, kan hulle dit oplaai. Verwys na ons gids oor die oplaai van fotos van jouself.

Jou stem

Jy kan 'n stemopname (of verskeie, een in elke taal wat jy praat) oplaai, sodat mense weet hoe jy klink en hoe om jou naam uit te spreek. Verwys na die projekbladsy vir besonderhede.

'n Wikipedia-artikel oor jou

Daar is meer as 300 Wikipedias, in verskillende tale. Hulle maatstawe vir "noemenswaardigheid" (om 'n artikel oor jou te hê) is meerendeels baie strenger as op Wikispecies; moet asseblief nie 'n Wikipedia-artikel oor jouself skep nie. Indien 'n artikel oor jou reeds bestaan, in een of meer Wikipedia-projekte, verseker dat jy voldoen aan die plaaslike beleid wanneer jy dit wysig.

Verwys ook na